Wat moet ek doen om die ewige lewe te be­ërwe? (Markus 10:17).

1. Erken dat jy ’n sondaar is. “Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” (Romeine. 3:23).

Jesus het reeds vir jou vergifnis, redding en saligheid voorsiening gemaak.

“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

(Johannes 3:16).

2. Besef dat jy jouself nie kan red deur goeie werke nie. “Want uit genade is julle gered, deur die ge­loof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” (Efesiërs 2:8-9).

3. Bekeer jou en breek met jou sondes. “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaad­doener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees, en tot onse God, want Hy vergeef verme­nig­vuldiglik.” (Jes. 55:7).

4. Nooi Jesus in jou lewe in en vra Hom om jou sonde te vergewe. “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand My stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en Hy met my.” (Openbaring 3:20).

“…en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, rei­nig ons van alle sonde. As ons ons sondes be­ly, Hy is getrou en regverdig om ons die son­des te vergewe en ons van alle onge­reg­tig­heid te reinig.” (1 Johannes 1:7, 9).

5. Glo die Woord van God dat Jesus sal doen wat jy vra. “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Toe sê hulle: “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.” (Handelinge 16:30-31).

“Want uit genade is julle gered, deur die ge­loof.” (Efesiërs 2:8).

6. Bely Jesus met jou mond voor die mense. “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” (Romeine 10:9-10).

Indien jy werklik vergifnis, saligheid en die Ewige Lewe wil ontvang, kan jy ’n eenvoudige, maar eerlike gebed soos die volgende bid:

Ek nooi jou nou om jou saak reg te maak. “Want elkeen wat die Naam van die Here aan­roep, sal gered word.” (Romeine 10:13).

Gebed

Genadige Hemelse Vader, wat my na Uself getrek het in die naam van U Seun Jesus Christus.

Ek besef dat ek ’n sondaar is en dat Jesus Christus die enigste Weg, die Waarheid, die Lewe en die enigste Middelaar tussen U en my is.

Ek bely al my talle sondes.

Ek glo vas dat Jesus Christus met Sy kosbare bloed en kruisdood vir my sondes gesterf het en so met U versoening kom bewerkstellig het.

Ek glo dat Jesus op die derde dag opgestaan het uit die dode en vir my intree by U.

Ek is innig en diep uit my hart bitterlik jammer vir al my sondes wat U so affronteer en ek wil graag wegdraai van al die sondes.

Wees my, ’n sondaar, asseblief genadig.

Kom was my en vergewe my van my skuld en sondes.

Here Jesus, ek wil U graag dien en eer.

Help my asseblief om U Woord beter te leer ken, U te gehoorsaam en getrou te volg van vandag af.

Laat U Heilige Gees my kom vul en voed.

Goddelike Here, ek is opreg en innig dankbaar vir hierdie wonderlike oomblik van oorgawe wat U deur tyd en ewigheid bestem het, dat U my kom red het van my sondes wat my so verstrik het.

Bewerkstellig asseblief nou deur die werking van U Heilige Gees ’n totale en groot en besliste verandering in my lewe, sodat my handel en wandel eer sal bring vir U Heilige naam.

Ek bely Jesus as Koning van my lewe en met my volle hart glo ek dat ek gered is.

Ek erken Jesus as my persoonlike Saligmaker en glo dat ek nou ’n wedergebore Christen is.

Dankie Jesus dat U in my lewe gekom het en my hart en lewe kom genees het en my gebed verhoor.

Ek vra dit in die naam van my Here en Redder, Jesus Christus.

Indien jy nou hierdie stap geneem het, kontak my asseblief. Ek wil graag 'n tyd saam met jou stap op hierdie nuwe lewenspad. E-pos jorsmond2@gmail.com