Cope vandag met die wete dat Jesus verstaan

Teks: Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees– Psalm 34:19

Die lewe kan soms oorweldigend wees, die kleinste dingetjies kan sommer net oornag te veel word en jou so oorweldig of – die werk het nuwe uitdagings, finansies klop ook die maand nie , ʼn geliefde se gesondheid verbeter nie en verhoudings wat aan jou trek en uitmergel. Dit voel ook asof niemand regtig verstaan nie, tog verseker die Bybel ons: Jesus verstaan.

Wanneer jy huil, weet Hy hoekom. Wanneer jy moedeloos is, dra Hy jou in Sy arms. Hy is nie ’n veraf God nie; Hy het as mens geleef en self pyn en verwerping ervaar. Hy verstaan jou trane en jou stil gebede.

Die welbekende stukkie : Voetspote in die sand is hier mooi van toepassing. Dit lui soos volg;

Voetspore in die Sand

Ek het een nag ’n droom gehad.
Ek het saam met die Here langs die strand gestap.
Op die hemelse skerm van my lewe het tonele verbygegaan –
gelukkige tye, maar ook donker tye van pyn en swaarkry.

By elke toneel het ek twee stelle voetspore in die sand gesien:
een stel was myne, die ander stel was dié van die Here.

Maar toe die laaste toneel van my lewe verbygaan,
het ek omgekyk na die voetspore in die sand
en ek het gesien dat daar op die moeilikste dele van my pad
net een stel voetspore was.

Ek was verward en hartseer.
“Here,” het ek gefluister,
“U het mos gesê dat U my nooit sal verlaat nie.
Waarom is daar net een stel voetspore
presies wanneer ek U die nodigste gehad het?”

Die Here het sag geantwoord:
“My geliefde kind,
Ek het jou nooit vir ’n oomblik gelos nie.
Toe jy deur jou donkerste tye gegaan het,
was daardie enkel stel voetspore nie joune nie,
maar myne – want dit was toe
dat Ek jou op my arms gedra het.”

Die verhaal van die voetspore herinner ons dat ons nie altyd sal verstaan hoekom dinge gebeur nie, maar dat ons altyd kan weet Wie saam met ons stap. Selfs wanneer jy voel dat jy alleen is of dat jou laste te swaar word, dra Jesus jou op Sy arms. Hy ken jou hart, jou pyn en jou vrese.

Om vandag te Cope beteken om met hierdie wete te leef: Jy hoef nie alleen te stap nie. In jou vreugdes loop Hy saam met jou, en in jou swaarkry dra Hy jou. Filippense 4:13 sê: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”

Wanneer die pad onduidelik is en jy voel jy sink, onthou die enkele ry voetspore in die sand – dit is die teken van Sy liefde, Sy krag en Sy getrouheid.

Filippense 4:7 herinner ons:“En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Hierdie vrede is nie ʼn wêreld sonder probleme nie, maar ’n rustige hart wat weet: Ek is nooit alleen nie.

Hoe om vandag te Cope

· Vertrou jou dag aan Jusus toe. Begin jou dag met sinvolle stiltetyd en gebed. Dit is ʼn goeie praktyk om toe te pas en maak ʼn wesenlike verskil aan die dag, staan vroeër op as jy moet.

· Wees eerlik oor jou emosies. Jy hoef nie sterk te “lyk” nie – Hy verstaan jou kwesbaarheid.

· Hou jou fokus op hoop. Herinner jouself dat elke seisoen tydelik is en dat God se plan vir jou goed is.

Praktiese Raad

· Skryf jou laste neer. Bid oor elke item en vra vir wysheid.

· Gebruik ’n Bybelvers as anker. Kies een vers (soos Psalm 34:19) en herhaal dit deur jou dag.

· Soek ondersteuning. Deel jou hart met ’n betroubare vriendin en bid saam.

· Lys elke dag ten minste drie dinge waarvoor jy dankbaar is en dank Jesus daarvoo

Onthou, Jesus is nie net bewus van jou pyn nie – Hy dra dit saam met jou. Wanneer jy voel jy kan nie verder nie, is Hy die Een wat jou lig en dra. Jy hoef nie alles self te beheer nie. Hy gee jou genoeg genade vir elke dag.

“Here Jesus, dankie dat U my verstaan, selfs wanneer ek nie myself verstaan nie. Ek gee my laste vandag aan U – my vrese, my hartseer, my onsekerhede. Vul my hart met U vrede wat alle verstand te bowe gaan. Leer my om op U te vertrou en rus te vind in U liefde. Amen.”